Akademie

Akademie is een aspek van die lewe waaraan ons bou. Ons onderrig is gestruktureer in drie fases, met elke fase ontwerp om kinders volgens hul ontwikkelingsvlak te begelei – liggaamlik, emosioneel, geestelik en akademies.

Hier begin alles: identiteit, selfvertroue en die vreugde van leer.

In hierdie fase is ons fokus op leer deur spel, beweging en konkrete ervaring. Kinders leer met hulle hele lyf en al hulle sintuie – hulle spring, bou, dans, klim en speel hulle pad tot begrip. Ons hou klasgroottes klein sodat elke kind raakgesien en verstaan word. Hierdie fase is krities vir vestiging van identiteit, kultuur, waardes en roeping – en daarom werk ons nou saam met ouers om kinders se unieke gawes vroeg raak te sien.

  • Kinders is nog heeltemal liggaamsgerig – hulle leer deur beweeg, speel en voel.
  • Hulle benodig emosionele veiligheid en herhaling om te leer.
  • Selfbeeld en identiteit begin vorm kry: “Ek is lief vir leer”, “Ek is veilig”, “Ek behoort”.
  • Leer is informeel: letters, klanke en getalle word spelenderwys ontdek.

Fokus: Verkenning, sinchronisasie van liggaam en brein, liefde vir leer word geplant.

  • Die kind begin leer hoe om “grootmens-dinge” te doen: sit stil, luister, skryf, lees.
  • Hulle is nog tussen spel en struktuur, en balans is noodsaaklik.
  • Groot spronge in kognitiewe ontwikkeling: simboliese denke, klankmanipulasie, eenvoudige probleemoplossing.
  • Selfvertroue en motivering hang af van die veiligheid van die leeromgewing.

Fokus: Basiese vaardighede word gelê, leer word gestruktureer, identiteit kry ruggraat.

  • Kognitief begin kinders verband sien en onthou bou.
  • Hulle kan begin werk met meer abstrakte konsepte (bv. getalwaarde, sinne, eenvoudige redenasie).
  • Hulle begin vrae vra en nuuskierigheid neem toe.
  • Sosiaal leer hulle om hul plek in ’n groep te verstaan – samewerking begin groei.

Fokus: Verstaan, groei in denke, samewerking, emosionele verdieping.

  • Die kind staan op die drumpel van meer formele leer: van leer lees na lees om te leer.
  • Hulle word meer selfstandig, krities en taakgedrewe.
  • Logiese denke ontwikkel sterker, en hulle verstaan gevolg en rede.
  • Daar ontstaan ‘n bewustheid van reg en verkeerd, innerlike waardes begin vorm.

Fokus: Oorgang na abstrakte leer, versterking van selfbeeld, verantwoordelikheid, roeping begin sigbaar word.

Goue Draad:
Van speel na verstaan. Van veiligheid na selfstandigheid. Van ontdekking na roeping.
Elke jaar is soos ’n nuwe ring op die boomstam — bouend op die vorige een. Daarom is dit so belangrik dat ouers die pad saam stap en verstaan dat dit nie net oor wiskunde of lees gaan nie – maar om ten volle mens te word.

Tussen Graad 4 en 6 beweeg kinders van “leer hoe om te leer” na “leer om te verstaan”. Hulle dink nie meer net oor feite nie – hulle begin verbindings, betekenis en beginsels raaksien. Hierdie fase is krities om identiteit te verdiep, kritiese denke te vorm, en kinders voor te berei vir verantwoordelikheid, leierskap en roeping.

  • Kinders begin vra: “Hoekom?” en “Hoe werk dit?”
  • Hulle dink nou meer logies en kan inligting verbind.
  • Selfstandige werk begin, maar hulle het nog baie struktuur en aanmoediging nodig.
  • Sosiale verhoudings verdiep – vriendskappe dra meer emosionele betekenis.

Fokus: Bou op grondwerk, ontdek betekenis, dink in patrone en redes.

  • Kinders begin oordeel en besluit – hulle weeg dinge op hul eie skaal.
  • Hul identiteit neem meer vorm aan: “Wat glo ek? Waarvoor staan ek?”
  • Hulle word bewus van ander se perspektiewe – empatie begin groei.
  • Hulle neem groter verantwoordelikheid vir hul leer, gedrag en tydsbestuur.

Fokus: Kritiese denke, keuses, karakter en roepingsbewustheid.

  • Kinders begin vra: “Wat is my plek? Wat is my rol?”
  • Hulle hanteer groter akademiese uitdagings, en leer om take oor tyd te bestuur.
  • Selfbeeld is sensitief – hulle soek bevestiging, maar ook geleentheid om hul eie stem te vind.
  • Leierskapsgeleenthede begin – hul invloed op ander word sigbaar.

Fokus: Volwassenheid begin, selfleierskap neem toe, roeping word fyn ingestel.

Goue Draad:
Van verstaan na toepas. Van afhanklik na selfstandig. Van leerder na leier.
In hierdie fase vorm kinders die gereedskap van denke wat hulle vir die res van hul skoolloopbaan (en lewe) sal gebruik. Hier begin hulle bewus leef – met sin, rigting en groeiende wysheid. En by Family Tree is ons daar – om saam met ouers hierdie ontdekking te ondersteun.

Graad 7 is nie net die laaste jaar van laerskool nie – dis ’n draaipunt. Dit is die jaar waarin kinders begin oorgaan van kind na tiener, waar die fondasies van vorige jare begin vrug dra en hulle met nuuskierigheid, sensitiwiteit en groeiende selfbewustheid hul plek in die wêreld begin ondersoek.

Dis die jaar van rigting, identiteit en innerlike voorbereiding vir hoërskool – nie net akademies nie, maar ook emosioneel, geestelik en sosiaal.

Dink dieper, leef wyser

  • Kinders begin dink oor die toekoms: “Wat wil ek doen? Wie wil ek wees?”
  • Hulle toon groter kritiese en reflektiewe denke – hulle wil verstaan én sin maak.
  • Hulle leer om besluite te neem wat hul identiteit en roeping begin vorm.
  • Innerlike en uiterlike wêreld bots soms – en daarom is begeleiding noodsaaklik.

Fokus: Selfkennis, sinvolle gesprekke, refleksie en beginselvaste denke.

Leierskap en roeping neem vorm aan

  • Graad 7’s is rolmodelle in die skool – en hul invloed word erken én versterk.
  • Hulle oefen selfleierskap, diensleierskap en geloofsleierskap.
  • Geleenthede om te lei – in klas, op die sportveld, in geloof – word bewustelik geskep.
  • Hulle ontdek dat roeping nie net oor werk eendag gaan nie, maar oor wie jy vandag reeds is.

Fokus: Leierskap deur karakter, diens en getrouheid.

Akademiese verdieping en voorbereiding

  • Die akademie raak dieper, breër en meer selfstandig – voorbereiding vir hoërskool begin in erns.
  • Kinders leer beplanning, tydsbestuur en studiestrategieë.
  • Thinking Tools word gebruik om inhoud met begrip te verwerk en probleme kreatief op te los.
  • Daar is ruimte vir ondersteuning én uitdaging, afhangend van elke kind se roete.

Fokus: Selfstandige leer, denke met struktuur, voorbereiding met visie.

Goue Draad:
Van kind na tiener. Van ontdekking na roeping. Van leerder na leier.
Hier word die boom regtig sigbaar – met wortels diep geplant, en takke wat begin reik. Graad 7 by Family Tree is nie ’n afskeid nie, maar ’n bevestiging:
Jy is geroep. Jy is genoeg. Jy is gereed