Kleuterskool

’n sagte begin.

By Family Tree glo ons dat die eerste jare van ’n kind se lewe nie net voorbereiding vir leer is nie — dit ís leer. Dis die jare waarin identiteit gevorm word, vertroue gebou word, en ‘n lewenslange liefde vir ontdekking ontwaak.

Ons kleuterskool is ’n plek van veiligheid, spel en geloof waar kinders nie net versorg word nie, maar ook geleidelik en natuurlik ontwikkel volgens hulle unieke ritme. Hier hoef hulle nie te presteer nie — hulle moet net wees wie hulle is en stadigaan word wie God hulle geskep het om te wees.

Wat ons uniek maak

Ons leerplan is ontwikkelingsgerig, spelgebaseerd en toegespits op bewegings-, sensoriese en sosiale ontwikkeling. Kinders leer met hul lyfies, hande en harte — lank voor potlood en papier.

Ons dag is deurweek met gebed, aktiwiteite geïntegreer met Woord (Skrif) integrasie, want leer vind plaas deur beweging. Ons plant God se waarheid in klein harte — sagkens, deur verhouding.

Ons programme is ontwerp om breinontwikkeling te ondersteun. Daar is ñ balans tussen stimulasie en rus, tussen beweging en stilte, tussen individuele spel en groepsinteraksie.

Met slegs ±12 kinders per klas het elke kind ruimte om gesien, gehoor en verstaan te word. Verhouding is vir ons die begin van alle leer.

Kinders speel buite in die natuur — hulle klim en klouter, ontdek en bou met wat die aarde bied. Dit is hoe leer bedoel is om te wees.

  • Fyn- en grofmotoriese ontwikkeling
  • Sensoriese integrasie
  • Sosiale vaardighede en emosionele regulering
  • Taalontwikkeling en luistervaardighede
  • Voorskoolse wiskunde- en geletterdheidsbegrippe
  • Musiek, storievertel en kreatiewe spel
  • Geloofsvorming en selfbeeldontwikkeling
  • Klasritmes wat oorgang en struktuur ondersteun
Tyd Aktiwiteit
07:30 – 08:00 Ontvangs en vrye spel
08:00 – 08:30 Oggendkring: gebed, liedjies, dagtema
08:30 – 09:30 Bewegingsaktiwiteit & buitespel
09:30 – 10:00 Peuselhappie
10:00 – 11:00 Temagebonde aktiwiteit / vaardigheidsontwikkeling
11:00 – 11:45 Kreatiewe spel of storie
12:00 – 12:30 Middagete en afsluiting
12:30 – 13:00 Afhaal / oorgang na naskool

Let wel: Rustyd word ingesluit volgens ouderdomsgroep en kind se behoefte.

  • Maandae tot Vrydae | 07:30 – 13:00
  • Naskoolopsie tot 17:00
  • Kleuterskool volg die hoofskoolkalender maar sluit effens vroeër aan die einde van kwartaal 4
  • Fooistruktuur is beskikbaar op versoek of via die inskrywingsblad
  • ’n Nie-terugbetaalbare inskrywingsfooi is betaalbaar met registrasie.

Plaasbesoeke en kennismaking word vriendelik aangemoedig en verwelkom.

‘n Woord aan ouers

Ons verstaan dat om jou kind aan ’n ander se sorg toe te vertrou, een van die grootste dade van vertroue is. Daarom skep ons ’n plek waar kinders liefgehê, begryp en versorg word — en waar ouers altyd deel bly van die reis.

Goue Draad: Van Baba tot Graad RR
Menswees begin lank voor formele leer. Hier gee ons elke fase die tyd en ruimte wat dit verdien.
By Family Tree verstaan ons dat ontwikkeling nie jaargang-gebonde of haasgedrewe is nie. Elke kind ontwikkel op sy eie tempo, in sy eie unieke volgorde. Hier is hoe ons die vroeë ontwikkeling sien en ondersteun:

Fundering van vertroue, gehegtheid en sensoriese bewustheid

  • Hier leer kinders nie konsepte nie – hulle leer veiligheid, verhouding en roetine.
  • Ons fokus op hegte emosionele bande, sensoriese aktivering, liggaamsbewustheid en die geleidelike begin van onafhanklikheid.
  • Die wêreld word ontdek met hande, ore, oë en voete. Alles is nuut – en ons help hulle verwerk wat hulle nie kan verwoord nie.

Fokus: Veiligheid, sensoriese integrasie, gehegtheid, beweging, rustigheid.

Die fase van grense, taal en onafhanklikheid

  • Die kind begin sê: “Ek self!” — en dit is die begin van wil, identiteit en taalontwikkeling.
  • Ons leer hulle om emosies te verwoord, sosiale grense te hanteer en begin met eenvoudige roetines.
  • Spel is steeds die belangrikste manier waarop hulle leer.

Fokus: Selfstandigheid, spraakontwikkeling, sosiale vaardighede, fyn/grofmotoriese voorbereiding.

Verhouding tussen spel en struktuur begin verskuif

  • Kinders begin langer aandag hou, patrone raaksien, eenvoudige take voltooi en hul plek in ‘n groep verstaan.
  • Hierdie is ’n kritieke fase vir skoolgereedheid – maar ons dwing nie – ons ontwikkel.
  • Hulle leer verantwoordelikheid, luister, ritme en roetine sonder om hul speelsheid prys te gee.

Fokus: Skoolgereedheid deur spel, taalverryking, emosionele regulering, selfvertroue, roeping word begin verken.

Goue Draad:
Van nabyheid na nuuskierigheid. Van veiligheid na selfstandigheid. Van emosie na begrip.
Elke fase van baba tot Graad RR bou op die vorige een. By Family Tree dwing ons nie volwassenheid af nie – ons koester groei. Ons beplan doelbewus vir kindwees – want wanneer wortels sterk is, dra die boom later vrug met blydskap.