Kurrikulum

Ons skool beklemtoon ‘n holistiese benadering tot onderwys wat Bybelse beginsels integreer met wetenskaplik bewese metodes en kurrikulums.

Ons volg die voorgeskrewe uitkomste van die Suid-Afrikaanse Departement van Onderwys, naamlik die KABV*-kurrikulum (*Nasionale Kurrikulum- en Assesseringsbeleidverklaring) – by baie mense bekend as CAPS. In ooreenstemming met die skool se visie en opvoedkundige filosofie, word die kurrikulum wel uitgebrei en verryk. Karakterontwikkeling, leierskapsvorming, selfkennis en dissipelskap word doelbewus in alle vakke geïntegreer.

Afrikaans is die taal van onderrig.

In Gr. R tot Gr. 6 gebruik ons vanaf 2026 die iKnowThat leermateriaal. Dit word ontwikkel in noue samewerking met die Onderwysdepartement en sluit aan by ons skool se Bybelse beginsels. Die titel van hierdie leermateriaal kom van Jeremia 29:11: “Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting.” In hierdie leermateriaal word al die KABV-vereistes vir die fase gedek met die volgende fokuspunte:

● dat ‘n onderwerp voltooi word voordat ‘n nuwe konsep aangeleer word.
● dat die volgorde van die inligting in sommige gevalle rondgeskuif word om ‘n logiese volgorde te hê.

In Gr. 7 is die fokus, benewens die voorgeskrewe KABV-vereistes, om ons leerders ook akademies so goed as moontlik voor te berei vir hulle seisoen in die hoërskool. Dit is vir ons ‘n riem onder die hart wanneer oudleerders se terugvoering is dat hulle, weens die akademiese onderrig by Family Tree, so maklik by die hoërskool kon aanpas.

Alhoewel ons in sekere gevalle leerders met spesifieke akademiese uitdagings akkommodeer, is ons fokus op hoofstroomonderrig.

Ook deur die akademie wil ons graag leerders ontwikkel wat ‘n positiewe verandering in ‘n gebroke wêreld kan lewer.