Wie is ons?

Welkom by Family Tree Leierskap Akademie.
Ons is ’n Christelike privaatskool in die Paarl met ’n duidelike roeping: om die volgende generasie geloofsvoorvatters voor te berei.

By ons werk geloof, natuur en leer saam om elke kind se volle potensiaal te ontsluit. Daarom leer ons nie net in klaskamers en uit boeke nie – ons klouter in bome, swem in damme, werk in tuine, timmer, maak musiek en verken die bergpaadjies.

Hier ken ons mekaar se name; hier bid, lag en groei ons saam – soos ’n familie.

“By ons is klasse klein, hande vuil en harte oop.”

“Hulle is soos bome wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdor nie – alles wat hulle doen, is voorspoedig.”
— Psalm 1:3

Wat maak ons anders?

By Family Tree leef en leer ons vanuit ’n lewende verhouding met God – elke dag, in alles wat ons doen.

  • Geloof is ons Vertekpunt en nie slegs ons Eindpunt nie.
  • By ons is geloof nie ’n vak nie – dis die hartklop van alles wat ons doen.
  • Ons leer kinders om God se hand in elke aspek van hul lewe raak te sien.
  • Bybelgebaseerde waardes vorm die grondslag van ons onderrig, ons verhoudings en ons besluitneming.
  • Ons help kinders om God se waarheid, goedheid en skoonheid raak te sien in hulle leer, hul werk en hulle omgang met mekaar.

“Hier nooi ons kinders uit om Sy skepping te bewonder, Sy Woord te eerbiedig  en vanuit Sy liefde te leef”

Ons vorm leierskap van binne af – karakterontwikkeling is net so belangrik soos akademie.

  • Elke kind word gesien, geken en verstaan. – Ons glo dat onderrig persoonlik, liefdevol en lewendig moet wees.
  • Ons glo in persoonlike, hartsgedrewe onderrig.
  • Klein klasse beteken elke kind word gesien, geken en verstaan.
  • Persoonlike aandag aan elke leerder se unieke gawes, tempo en uitdagings.
  • Ons onderwysers het roeping, nie net ’n beroep nie — hulle stap saam met elke leerder op sy of haar unieke pad van groei.

“Ons klassies is Klein, maar ons impak Groot!”

Ons doen dinge eenvoudig, maar sinvol – en dit maak al die verskil.

  • Ons klasgrense strek verder as vier mure
  • Aktiwiteite soos plaasdam-swemme, berguitstappies, natuurstappe en grondprojekte maak leer konkreet en vol avontuur. Sodoende leer ons leerders om respek te hê vir die aarde en vir die Skepper daarvan.
  • Leerders werk met hul hande, plant, bou en ontdek
  • Kinders leer die vreugde van stadiger leef, luister en saam wees.
  • Minder tegnologie, meer egte ervarings.
  • Leer met jou hande, hart en voete
  • Berguitstappies, natuurprojekte en buiteluguitdagings is deel van ons leerprogram.

‘Hier vorm ons ’n hegte Opvoekundige gemeenskap ( “Learning Village”) waar ouers, onderwysers en kinders saam werk, glo en groei”

Ons glo dat ware opvoeding beide die hart én verstand ontsluit. Daarom streef ons na voortreflikheid in beide die akademiese en karakter ontwikkeling van ons leerders.

  • Die “I Know That”-kurrikulum wat ons gebruik, is spesiaal ontwerp om hierdie balans aan te spreek: dit skep akademiese diepte, kweek kritiese denke en vestig Bybelse waardes
  • Met die Thinking Tools Method leer ons kinders om doelgerig te dink en probleme op te los – vaardighede vir vandag én môre.

Minder skerms. Meer sonlig, modder, lag en stilte.

  • In ’n wêreld vol haas en skerms, bied ons ’n plek waar kinders weer kan asemhaal.
  • Hier vier ons eenvoud, eerlikheid en natuurverbondenheid.

Ons Begin

Family Tree Leierskap Akademie het ontstaan uit ’n diep roepingsbewustheid—die oortuiging dat kinders meer nodig het as net goeie akademiese onderrig. Sedert 2014 bou ons op twee oortuigings: dat karaktervorming baie vroeër begin as wat algemeen besef word en dat ons wêreld ’n dringende tekort het aan leiers met morele integriteit;  manne en vroue wat vanuit diep geankerdheid  in die waardes en beginsels van God se Woord leef.

Ons Fokus

Ons voel geroepe om ’n nuwe generasie Voorvatters, Rigters en Toonaangewers—“World Changers”—voor te berei om God se unieke roeping vir hul lewens te vervul. Daarom is ons kurrikulum en onderrigmetodes doelbewus ontwerp om kinders prakties en geestelik hiervoor toe te rus. Ons kombineer ’n waardegedrewe kultuur met moderne leerbenaderings—alles op ’n plaas, met voete in die grond en oë gevestig op die toekoms.

Ons glo dat dissipelskap nie ’n kitsproses is nie, maar ’n lang, intensionele reis waarin die waardes en gewoontes, van die Christelike geloof stadig maar seker ingedra word in die harte van jong kinders. Family Tree is nie uit planne op papier gebou nie, maar uit baie geloof, gebede en genade.

Ons Benadering

By Family Tree volg ons ’n doelgerigte proses om kinders holisties te vorm en toe te rus vir hulle Godgegewe roeping. Ons werk deur ses kernfokusareas – ons 6 Pilare – wat elke aspek van groei en ontwikkeling versterk:

Om ’n nuwe generasie Rigters toe te rus vir dit wat Vader met hul lewens wil vermag, is die hartklop van ons skool. Dit vra om die deeglike vaslegging van Bybelse waardes en gewoontes, asook die ontdekking en ontsluiting van individuele gawes en talente.

Hiervoor is ’n goeie leerplan en bekwame leerkragte opsigself nie voldoende nie. Dit vereis ’n hegte vennootskap tussen die skool en die ouerhuis, gebaseer op die sentraliteit van die Woord en gemeenskaplike waardes en verwagtinge. Met dít as kriteria kon ons daarin slaag om ’n hegte, doelgerigte personeel- en ouergemeenskap te vestig wat vandag die grootste bate van ons skool is.

“Partnering with parents in raising world-changers for Jesus”

Die gesin (“family’’) is God se oorspronklike idee vir die onderrig en opvoeding van die volgende geslag. ’n Liefde en aanvoeling vir Jesus, Sy wil en Sy Woord word optimaal binne die konteks van die gesonde gesin oorgedra.

In ’n wêreld wat groot druk op huwelike en gesinne plaas, poog ons by Family Tree Leierskap Akademie om ’n teenkultuur te skep wat deurlopende opleiding en ondersteuning aan ouerhuise verleen ten einde gelukkige, versorgde gesinne daar te stel.

Die gesegde lui: “It takes a village to raise a child”. En dis so waar! In die vroeë jare van kinderontwikkeling is hierdie nie net ’n groep kennisse nie, maar mense met wie jy jou oortuigings, waardes en verwagtinge deel.

Ons glo dat ’n skoolgemeenskap, saamgestel uit personeel en gesinne wat dieselfde waardes en ideale koester, die optimale omgewing bied waarbinne kinders toegerus kan word om hulself te handhaaf in ’n groter en meer diverse konteks.

Vir dit om te gebeur, is dit noodsaaklik dat ouers inkoop in die groter visie van ons skool en sodoende hul plek inneem as vennote, eerder as blote kliënte van Family Tree.

Om te weet wie jy is (jou identiteit), waarom jy hier is (jou roeping) en die waardes en gewoontes (kultuur) wat jy hiervoor benodig, moet van die belangrikste uitkomstes van enige opvoedkundige proses wees. In ’n wêreld wat sy eie waardes en identiteit aan ons wil opdring, is dit noodsaaklik dat daar vroegtydig met hierdie proses begin word.

Deur ons klasse doelbewus klein te hou – 12 leerders per voorskoolse klas en 18 per laerskoolklas – kan gawes, aanlegte en passies vroeg reeds raakgesien en ontwikkel word. By Family Tree werk ons ook saam met die ouerhuis om sterk oortuigings van wie hul is en waar hul inpas in God se groter ontwerp by ons kinders te vestig.

Morele integriteit – om goed van kwaad te kan onderskei en te doen wat reg is in die oë van God – is ’n menslike eienskap waaraan die Bybel groot waarde heg. Wanneer heersers en leiers hiervolgens regeer, hou dit groot voordele vir hul land en landsburgers in. Dit is vandag steeds so waar as wat dit in die tye van antieke Israel was.

Om ’n begrip en waardering vir die wil en karakter van God by jongelinge aan te wakker, is daarom een van die grootste beleggings wat hierdie generasie kan maak in die toekoms van die volgende. Om ons kinders by hierdie punt te bring, verg egter meer as net die blote oordrag van kennis. Morele integriteit is die gevolg van vele ervarings en openbarings van die grootheid en goedheid van God.

By Family Tree poog ons om ’n omgewing te skep waarbinne leerders die almag, skoonheid en goedheid van God kan ervaar en onweerstaanbaar vind.

Om ons kinders voor te berei vir ’n wêreld waarin menslike en kunsmatige intelligensie direk met mekaar gaan meeding, vereis aanpassings in die tradisionele leerplanne van skole.

Volgens ’n verslag deur die Wêreld Ekonomiese Forum, getiteld “The future of jobs”, is die vaardighede wat die meeste in aanvraag gaan wees in die toekoms:

  1. Komplekse probleemoplossing
  2. Kritiese denke
  3. Kreatiwiteit
  4. Bestuur van mense
  5. Samewerking met ander
  6. Emosionele intelligensie
  7. Oordeel en besluitneming
  8. Dienslewering
  9. Onderhandeling
  10. Kognitiewe aanpasbaarheid.

Om ons leerders voor te berei om te floreer in hierdie nuwe wêreld, is vir ons ’n top prioriteit. Daarom plaas ons groot klem op die aanpassing en ontwikkeling van nuwe studiemateriaal en metodes van onderrig. Sentraal tot dit, wil ons ’n leerervaring skep wat kreatiwiteit en ’n positiewe benadering tot probleemoplossing bevorder.

Ons Waardes

By Family Tree is waardes nie net woorde op ’n muur nie – dis gewoontes van die hart. Ons leef dit daagliks in ons klasse, op die speelgrond, op uitstappies en in die klein keuses wat kinders maak. Hierdie waardes vorm die ruggraat van wie ons is, en hoe ons kinders voorberei om wêreldleiers vir Jesus te wees.

Ons volg die I-SERVE raamwerk – ses eenvoudige, maar kragtige waardes:

I – Integrity (Integriteit)
Ons woorde en dade pas by mekaar.
Kinders leer om eerlik te wees, vertroue te bou en die regte ding te doen – selfs wanneer niemand kyk nie.

S – Stewardship (Rentmeesterskap)
Ons sorg goed vir dit wat aan ons toevertrou is – tyd, talente, mense en skepping.
Ons leer dat alles aan God behoort, en dat Hy ons vertrou om dit met wysheid te bestuur.

E – Enhancement (Ontsluiting)
Elke kind is uniek geskape met gawes en potensiaal wat ontdek moet word.
Ons help kinders om hul talente te ontdek, te ontwikkel en te gebruik om ander te dien.

R – Run in Unity (Spanwerk)
Ons is ’n span – met liefde, respek en eenheid werk ons saam.
Kinders leer dat hulle nie alleen hoef te wees nie en dat saamwerk groter impak bring.

V – Valor (Dapperheid)
Ons staan vir wat reg is, tree gehoorsaam op en gee nie maklik moed op nie.
Kinders leer moed, vasberadenheid en geloofsgehoorsaamheid – selfs in moeilike tye.

E – Excellence (Uitnemendheid)
Ons bring ons beste – nie om te vergelyk nie, maar om getrou te wees aan wat God in ons geplaas het.
Kinders leer om met toewyding, netheid en doelgerigtheid te werk – in alles wat hulle aanpak.

Ons Einddoel

By Family Tree meet ons ontwikkeling aan die holistiese groei van elke kind—liggaam, siel en gees. Ons fokus op drie kern-merkers: ’n sterkte van gees, ’n sagte hart en bekwame hande. Só ontsluit ons elke kind se roeping en unieke potensiaal.

Sterkte van Gees  (Strong Minded)

Identiteit – Weet aan Wie jy behoort.
Roeping – Verstaan waarom jy hier is.
Gehoorsaamheid – Leer om Sy stem te ken.

Sagmoedige Hart (Gentle Hearted)

Geloof – Ken Sy karakter en teenwoordigheid.
Oorgawe – Vertrou Sy trou.
Nederigheid – Erken Sy krag en nabyheid.

Vaardige Hande (Skilled Handed)

Professioneel – Vaardighede vir roeping en werk.
Ontspanning – Vaardighede vir kreatiwiteit en balans.
Verhoudings – Vaardighede vir gesonde interaksie.